’n Verstommende 148 punte aangeteken, ’n skamele 63 afgestaan. Twee gespeel, twee gewen en twee bonuspunte.
Dit is hoe die NWU-Puk se vertoningslys Maandagoggend lyk na ’n haas onverbeterlike eerste Varsity Netbal-naweek waarin sowel Kovsies (60-47) as TUT (88-16) die knieg voor die Noordwesters moes buig.
Die Puk se seges oor Kovsies en TUT was allermins so onverwags soos ‘n kat wat blaf, dog was die wyses waarop die onderskeie oorwinnings behaal was iets om oor te glimlag.
Breed te glimlag.
Kovsies, die verdedigende USSA-kampioen, is nie net geklop nie, maar die Puk het ook daarin geslaag om ’n bonuspunt vir ‘n half-honderd of meer agter hul naam te kry.
Die daaropvolgende 88-16 dragslag oor TUT kan as te ware as ’n wurgsege beskryf word, want elke punt is uit die Pretorianers getap. Die Puk het halftyd reeds 40-12 voorgeloop waarna hulle nóg 48 punte aangeteken het.
Dorette Badenhorst, NWU-Puk se afrigter, het in die aanloop tot die naweek se wedstryde ’n bonuspunt-sege oor TUT as een van haar doelwitte bestempel.
So gevra, en so gedaan. Met rente.
Vanmiddag om 16:30 by die Universiteit van Pretoria se Rembrandt Hall kan die Puk se sjampanje-naweek egter die smaak van goedkoop vonkelwyn aanneem wanneer ’n gekweste Tuks aangedurf word.
Die gasheer sal nog hul wonde lek ná hul 53-46 nederlaag teen Kovsies en die enigste salf vir dié seer sal wees om witwarm Pukke se opmars te blus.
Die mantel van ‘gunsteling’ is wel een wat menige span se Achilleshak al was en Badenhorst sou haar troepe gemaan het dat oorgerustheid teen Tuks niks minder nie as ’n slagyster vir hul aanspraak op die Varsity Netbalreeks kan wees.
Die vertoning van mede-kaptein en verdedigingsorganiseerder, Marli Geel, sal daarom vir Pukke ’n deurslaggewende rol speel.
Is die beste aanvalsmetode goeie verdediging? Dit is ’n vraag wat Geel teen Tukkies se skerpskutters vanmiddag sal moet beantwoord.
Deur Bertie Jacobs









































