“Fluit-fluit, hul storie is uit.” Mens sou NWU-Puk-ondersteuners daarvan kon beskuldig dat die hele boksemdais hulle Maandagaand aan kanariesaad vergryp het, want gefluit was daar gefluit.
Sien, dit was halftyd tussen Pukke en Kovsies in hul Varsity Netbal-stryd en die Bloemfonteiners was reeds 22-13 voor.
Om dit in perspektief te stel, verbeel jouself die volgende: jy het jou wederhelfte se verjaarsdag vergeet en in jou haas huis toe om verskoning te vra jaag jy in ’n verkeersbeampte vas.
Dít is in hoeveel moeilikheid Pukke was.
O ja, die verdedigende Varsity Netbal-kampioen het die naweek gemakliker as Woollies-pantoffels met UJ (79-36) en UCT (71-17) klaargespeel.
Verbeel jou dan sommer ook jou karlisensie het verval.
“Jy kan nooit hierdie span afskryf nie,” maan Dorette Badenhorst, hoofafrigter, egter Dinsdagoggend ná haar span met ’n fenomenele terugvegpoging vorendag gekom het om ’n 45-45 gelykopuitslag af te dwing.
Ook se hittete of die Puk het vir ’n skok gesorg wat op die Richterskaal sou registreer het.
“Ons het ’n kans gehad om die wedstryd te wen, maar ons kon dit nie benut nie.”
Die tuisspan was van meet af op die agtervoet en was 11-7 ná die eerste kwart agter voor Kovsies die daaropvolgende 15-minute heeltemal oorheers het.
“Ons het net te veel foute in die eerste helfte gemaak en ek dink ook die spelers het toegelaat dat hulle fisies geïntimideer was,” verduidelik Badenhorst.
“Dit alles gaan oor BMT. Die meisies raak nog op hul senuwees en dink nie op die baan soos hulle veronderstel is om te doen nie. As ons kalm en rustig gebly het sou ons ’n wen kon deurtrek.”
Pukke het in die derde kwart hul ritme gevind en hoewel Kovsies steeds 35-29 voor was, het die Noordwesters gewys dat die koeël eers deur die kerk is wanneer die orrel se laaste noot gespeel word.
“Ek is baie trots op die wyse waarop hulle terug baklei het. Kovsies het ’n ongelooflike sterk middelveld met spelers soos Karla Mostert en Lauren-Lee Christians. Daar is ’n klomp sterk seniors in hul span, maar ons besef nog nie ons is net so goed soos hulle nie. Ons glo dit nog nie. Laat ek vir jou sê, die oomblik wanneer ons begin glo, dan gaan jy iets sien.”
Selfvertroue, sê Badenhorst, hulle moet leer om selfvertroue teen Goliat te hê.
En wat het ons ongelowige Thomasse geleer?
Dat as ons wil fluit moet ons leer om Psalm 119 te fluit, want hierdie span se storie is nie sommer uit nie.
*Die NWU-Puk beklee die tweede posisie op die Varsity-Netbal-punteleer nadat hulle Saterdagmiddag vir UJ 65-49 afgeransel het en Sondag was UCT 66-31 ook by die Kopanelo-baan hier in Potch geklop. Eerskomende Maandag word VUT aangedurf.
Deur Bertie Jacobs









































