Die NWU-Puk se eerstenetbalspan het Maandagaand by die SAWD Kopanelo-saal ’n volhand van onverbeterlike vertonings voltooi deur NMMU 57-38 leeghand terug Port Elizabeth toe te stuur.
Dit was die NWU-Puk se vyfde agtereenvolgende sege in die Varsity Netbalreeks waarin hul wurggreep op dié toernooi weekliks verstewig word.
Aanvanklik wou dit lyk of die Madibaz die Noordwesters se skoenveters geknoop het en dit het ’n minuut of tien geneem vir die Puk om hul voete te vind.
Hierna het Dorette Badenhorst se span met reëlmate ratte verwissel en weereens gewys dat wanneer dié span eers op dreef is, sy nie gestuit gaan word nie.
Chante Steyn was ’n skerpskutter sonder faal vir die tuisspan en Elsunet du Plessis blyk ’n robot te wees wat uit die toekoms gestuur is om teenstanders les op te laat sê.
“Chante het baie goed geskiet en ’n reuse rol gespeel in ons oorwinning. Elsunet is ’n briljante speler wat van voor af lei. Sy en Marli (Geel) is uitgenooi om die naweek aan die SA proewe deel te neem en dit is jammer dat Marli dit nie sal kan maak nie want albei is Protea-materiaal,” vertel afrigter Dorette Badenhorst.
Sy moes die Sondag voor die wedstryd hoor dat sy sonder Geel ,een van haar waardevolste spelers, sal moet klaarkom ná sy haar kniegligamente tydens oefening beseer het.
Om die talismanagtige Geel te verloor was ’n gevoelige hou, maar ook ’n katalisator wat die span nóg nouer saamgesnoer het.
“Om Marli te verloor was ’n groot terugslag, maar elke speler het besef dat hulle daardie 10% ekstra moet gee om op te maak vir haar verlies. Ons het as ’n span saam gespeel en so as ’n span saam gewen.”
Nie dat NWWU se Madibaz dit vir hulle maklik gemaak het nie.
In die begin van die wedstryd het ons ons verdediging op die doele verkeerd gespeel, maar kon dit regstel. NMMU het spelers met jare se ervaring wat van hulle ’n uiters gedugte span maak.
Daarteen het ons agt O/20-spelers in die groep, so ek is baie tevrede. Ek het eerlikwaar nie verwag ons gaan so goed doen nie. Ons het net gegaan vir die wen, nie vir die bonuspunt nie, so om na vyf wedstryde met vyf bonuspunte te sit is ongelooflik lekker.Ek kan nie vir jou sê hoe trots ek op elkeen van ons spelers is nie. Hulle luister na my as afrigter, hulle stel saam doelwitte én gaan haal dit.”
Volgende Maandagaand word UJ by die Kopanelo-saal in Potch die stryd aangesê.
Deur Bertie Jacobs









































