Die grenshoue is geslaan en die doelskoppe is oorgeklits, nou is dit atletiek se beurt in die kollig wanneer die Varsity Atletiekreeks 18:00 Dinsdagaand op die NWU-Puk/McArthur-baan begin.
Hierdie skouspel, wat net meer as drie ure duur, gaan oudergewoonte weer ’n vertoonkas wees vir van die land se atletiektoekoms. Altesaam agt universiteite neem deel en elke item is ’n ‘finaal’.
By die NWU-Puk se vrouespan gaan alle oë op Caster Semenya (1500m)Ariane Nel (400m), Bianca Erwee (verspring), Melissa Hewitt (200m), Gezelle Bernard , Stefanie Greyling (hamergooi) en Geraldine Duvenhage (diskus) wees.
Volgens Terseus Liebenberg, die NWU-Puk se atletiekbestuurder, kan omtrent elkeen van hierdie atlete as ’n gunsteling beskou word om in hul item koning(gin) te kraai.
“Ons het vanjaar ’n ongelooflike goeie vrouespan. Hoewel Caster se voorbereiding meer daarop gemik is om haar slaggereed vir die Europese-seisoen te kry is sy stadig maar seker besig om haar beste te bereik. Die ervaring en positiewe energie wat sy na die span bring is wonderlik vir die spangees. Saam met Melissa, Gezelle en Bianca is hulle die seniors in die span wat van voor af gaan moet lei.”
By die mans gaan die Namibiër van geboorte, Hardus Maritz , (400m-hekkies), Rantso Mokopane (3000m) en Ruan Murray (diskus) die NWU-Puk se aanslag moet aanvoer. Dan is daar ook Chederick van Wyk, die eerstejaaratleet wat onlangs tydens die Provinsiale Kampioenskappe ’n 10.56s in die 100m gehardloop het.
Vir Liebenberg gaan dit wel meer as bloot net wen.
“Wen is belangrik, dit is hoekom ons deelneem, maar dit is nie alles nie. Dit gaan ook oor die poging wat mens aanwend en die werk wat mens insit om te wen. Ek weet die NWU-Pukspan gaan alles in hul vermoë doen om te wen. Daar is twee byeenkomste vanjaar en elke een gaan ’n spanpoging vat indien ons vir Tukkies wil onttroon.
“Hoewel Tukkies nog elke kompetisie gewen het, os die kompetisie vanjaar baie oop. UJ, Kovsies en Maties spog elkeen met ’n sterk span en mens kan dit nie bekostig om enige iemand te onderskat nie.
“Hierdie kompetisie het gewys dat een of twee mislukte vertoning jou kanse vir ’n wen ontneem. Elke van ons atlete gaan op elke aand op alle silinders moet vuur. Vir die beste universiteit weet ek hulle gaan.
Hy nooi ook ieder en elke uit om ’n draai by die kompetisie te gaan maak.
“Dit is ’n ongelooflike lekker program wat die hele familie saam kan geniet, met vermaak en heerlike kosstalletjies. Vir sowel die atletiekfynproewer as vir die gemakstoelkyker gaan dit ’n feestelike aand wees.”
Deur Bertie Jacobs









































