Grys-swart wolke kreun en die donderweer dreun bo Potchefstroom terwyl weerlig die hemel ophelder. ’n Neerslag wag.
Dit is slegs vier ure voor die NWU-Puk vir Kovsies in die eindstryd van vanjaar se Varsity Netbalreeks aandurf.
Vier ure voor of die Noordwesters, of die Bloemfonteiners, se name eerste in dié reeks se rekordboeke neergepen word.
Is die NWU-Puk gereed?
“Definitief,” sê ’n komkommerkoel Dorette Badenhorst, Pukke se geleerde afrigter, voordat die reën die stof van vanaf ’n kurkdroog Potchefstroom begin vee.
’n Ligte oefensessie vanoggend, ’n spanete saam vanmiddag 13:30 en nou word daar ontspan. “Daar is een of twee van die meisies wat eksamen skryf vanmiddag, ander neem ’n middagslapie en van hulle kyk weer Kovsies se wedstryd teen MNNU.
Die belangrikste ding is dat die span nie te opgewerk raak nie. ’n Bietjie skoenlappers is goed, maar hulle moenie té oorywerig wees nie.”
As nasionale o.21-afrigter weet sy van druk.
“Ek is nie ’n persoon wat maklik wys dat ek stres nie. Ek probeer om so rustig en kalm as moontlik te bly en die druk stukkie vir stukkie te hanteer.”
’n Meer bygelowige breier sou dalk onheil in die donderstorm inlees, nie Badenhorst nie. Vir haar gee die storm perspektief.
“Dit laat my net besef hoe klein ek is en hoe groot die Here is. Dit is vir my wonderlik. Dit wys Sy grootheid en herinner my net weer dat alles met ’n doel as deel van Sy plan gebeur. Net soos vanaand.
Ek hoop net diegene wat bietjie laat vanuit Bloemfontein ry is veilig op die pad en dat hulle veilig hier by ons aankom.”
Net soos die wolke bo die Noordwes skuur, is dit twee groot spanne wat mekaar die stryd gaan aansê: onoorwonne Pukke teen sterbelaaide Kovsies.
“Ek dink daar gaan vanaand goeie netbal deur albei spanne gespeel word. Met Kovsies se Proteas terug is hulle verseker die gunstelinge en spog met ’n ervare span.
As ons balle gedraai gaan kry gaan dit ’n bonus wees, want hulle gaan dit geensins vir ons maklik maak nie. Ons is wel baie gemotiveerd en weet wat ons sal moet doen om te wen.”
Deur Bertie Jacobs









































