Die vrouehokkiespan van die NWU-Puk het die afgelope naweek in Bloemfontein hul wurggreep op die Varsitybeker verstewig deur met twee seges en een gelykopuitslag tot die eindstryd van dié reeks deur te dring.
Ná ‘n skittersege van 8-0 oor Wits (Saterdag), 3-2 teen Kovsies (Sondag) en 1-1 teen Tuks (Maandag) is Elun Hack se troepe die enigste onoorwonne span in die kompetisie en blyk haas onstuitbaar te wees.
“Ons het geweet ons gaan kanse teen Wits kry en die meisies het hulle uitstekend geneem. Dit was baie lekker om Kovsies in hul agterplaas te stuit en hul tuisskare stil te speel. Dit was ‘n strawwe seisoen tot dusver en die meisies het bietjie moegheid begin wys einde se kant toe, maar hulle het ook hul karakter gewys deur die wendoel in die laaste twee minute aan te teken,” het Hack gesê.
“Tukkies was ‘n moeilike wedstryd. Die bene was weereens ietwat lam en wat dalk ook ‘n invloed gehad het, was dat ons geweet het dat ons reeds verseker is van ‘n plek in die eindstryd. Die gelykopuitslag het wel beteken dat ons Tuks uit die toernooi geskop het en dat hulle nie op hul tuisveld in die eindstryd sal kan meeding nie.”
Pukke durf komende Sondag vir UCT aan, maar hul voorsprong is so ver bo hul naaste teenstanders dat die uitslag van dié wedstryd soveel beteken soos Waterkloof se reëls vir die Guptas: niks.
Hul teenstanders vir die eindstryd Maandagaand in Pretoria sal eers deur die loop van die naweek se laaste wedstryde bepaal word in wat ‘n tweeperd-resies tussen Kovsies en Maties is.
“Dit is moeilik om te sê wie ons eerder sal wil aandurf. Maties het ‘n klomp nasionale sterre in hul geledere terwyl ons vir dekades al in ‘n wedywering met Kovsies gewikkel is,” het Hack gesê.
“Dit is ‘n groot hupstoot vir die span om onoorwonne te wees en dit is ‘n veer die span se hoed, maar in ‘n eindstryd is die speelveld gelyk en die telbord lees 0-0.”
Ok net tot dié span soos die afgelope maand of wat op al sy silinders begin vuur.
Deur Bertie Jacobs









































