Dit sal haar eerste, en enigste, Varsity Netbal-toernooi wees.
Verlede jaar het geskeurde kruisligamente haar op die kantlyn gehou, volgende jaar gaan sy volgens die kompetisie se regulasies te oud wees om deel te neem.
Daarom gaan Nadia Uys, kaptein van die NWU-Puk se Varsity Netbal-span, daarop uitgaan om ’n onvergeetlike toernooi te hê.
“Dit is great om weer terug in die span te wees. Verlede jaar het dit my nogal gevang om die wedstryde van die kantlyn af te dop te hou,” vertel die blondekop MBW-student.
“Dit is die enigste keer dat ek die voorreg gaan hê om Varsity Netbal te speel, en ek kan nie wag nie.”
Die verantwoordelikheid van kaptein wees, is een wat haar soos ’n handskoen pas. “Dit is ’n groot eer. Ek kan nou al almal waarborg dat ons nie ’n tree vir enige iemand gaan terugstaan nie.
“Maties is altyd ’n goeie span en hulle het nie enige spelers sedert verlede jaar verloor nie. Ons is wel baie goed voorbereid en ons weet as ons die kanse vat wat na ons kant toe kom, dat ons kan wen,” sê Uys.
Hoewel die NWU-Puk ’n paar ervare spelers vaarwel moes heet, beteken dit allermins dat haar span ’n stomper aanvalswapen is.
“Dit is altyd goed om jong bloed in die span in te bring en hulle sou gou as moontlik aan hierdie vlak bloot te stel. Hulle het altyd hope durf, en dit is hulle wat by ons oues moet oorneem,” skerts sy.
Hoewel menige kenner Uys as ’n gunsteling bestempel om die Proteas aanstaande jaar in die Netbal Wêreldbeker te verteenwoordig, is daar net twee mikpunte in haar visier.
“Ek wil beseringsvry en solank as moontlik op die baan bly!” lag sy en verwys na ’n operasie vroeër vanjaar toe ’n gedeelte van haar miniskus verwyder was.
“My enigste fokus nou is op Puk-netbal. Ek voel geseënd om terug te wees, dit is ’n geleentheid wat ek met albei hande wil aangryp. Dit gaan ’n opwindende toernooi wees, die atmosfeer gaan ongelooflik wees en ons kan nie wag om voor al ons ondersteuners te speel nie,” vertel se gelate.
Nou of nooit vir kaptein Uys. Maties, wees gewaarsku.
Volg Nadie Uys en haar span by @Puknetbal.
Deur Bertie Jacobs









































