Vir mekaar sal Dorette Badenhorst en haar span die Drakensberge kaalvoet oorgaan.
Ná ‘n Varsity Netbalseisoen waar die NWU-Puk soms deur diepe waters moes swem, was dít Maandagaand in Bloemfontein alte duidelik toe die Noordwesters in Bloemfontein alle verwagtinge oortref het deur onoorwonne Kovsies 56-48 hul eerste loesing van die reeks toe te dien.
In die Rosestad. In die halfeindronde. In teenstelling met al wat voorspelling.
“Niemand het vir ons ‘n kans gegee nie…,” begin die meesterbrein wat haar span tot twee eindstryde in drie jaar gebrei het.
Maar toe, Dorette?
“Moet nooit ‘nooit’ sê nie,” glimlag sy.
So waar daai soos padda manel dra, daai.
“Ons was ongelooflik goed voorbereid en ons span het soos een vir mekaar gespeel. Dit was absoluut ‘n spanpoging, van die spelers wat begin het tot die wat van die bank af gebruik was,” vertel sy.
Nederlae teen Kovsies, Maties en Tukkies het so amper NWU-Pukke se veldtog van koers af gegooi, om nie eers te praat van die omstredenheid rondom ‘n sekere onvoorsiene kragonderbreking by die Kopanelo-saal in Potchefstroom nie.
“Dit was ‘n lang jaar met baie kompetisies en met dieselfde groep spelers. Dit was moeilik om die spelers op die regte tyd die regte spelpeil te laat bereik. Maar, die spelers het gewys dat hulle mekaar vertrou en het die afgelope weke uitstekend gespeel.”
Nou’s dit Stellenbosch en eindstryd toe.
“Maties is ‘n bitter goeie span met baie ervaring,” sê sy en gooi dan ‘n teenvoeter by: “My span is wel só reg om hulle aan te vat. Ons speel tans briljante netbal en as ons aanhou om so te speel is daar nie ‘n span wat by ons kan kersvashou nie.”
Volgens haar skrik hierdie groep NWU-Pukke so min vir die Eikestad en Maties se tuisvoordeel soos Japan vir… nee wag, dit maak steeds te seer.
“Ons gaan nie ons benadering verander nie. Ek dink nie ek het omtrent een ondersteuner by Kovsies gesien nie, maar ons het hul ondersteuners vroeg stilgespeel,” sê sy meer stout as giftig.
“Ons fokus was net te groot om die skare te hoor en dit gaan weereens die geval teen Maties wees. Ek is nie vir een oomblik bekommerd daaroor om weg te speel nie.”
Haar boodskap vir haar spelers is eenvoudig: “Vertrou mekaar, hou aan om vir mekaar te speel en speel om die NWU-Puk se naam hoog te hou. Doen dit en ek is 100% seker ons gaan Maties wen.”
En, vir diegene wat wonder of die NWU-Puk se rottang Maandagaand gaan werk kry, sê Badenhorst: “Ons het gewys ons kan wen, moet nooit in ons moed verloor nie.”
Want ja, die span speel vir mekaar. Want ja, vir meer as dit ook.
“Namens die span wil ek vir elke ondersteuner dankie sê. Dankie vir elke boodskap, vir elkeen wat langs die baan gestaan het en voor die televisie gekyk het. Dit beteken vir ons onbeskryflik baie. Maandagaand gaan ons dit vir julle doen.”
Deur Bertie Jacobs









































