Is dit dan hoe Varsity Sport-glorie smaak? Wel, soort van. Dis steeds lekker.
Die atletiekspan van die NWU-Puk was Maandagaand in Stellenbosch as gesamentlike Varsity Atletiek-kampioen gekroon en het sodoende die eerste NWU-Pukspan geword om ’n Varsity Sport-kroon te dra.
NWU-Pukke en Tukkies deel vanjaar dié eer met Tukkies wat die eerste byeenkoms in Potch gewen het en die Noordwesters die laaste.
“Man dit voel lekker!” bieg die NWU-Puk se atletiekafrigter, Terseus Liebenberg, met goeie rede. “Ek is só (en hy rek die ‘o’ tot oormore uit) trots op elkeen van die atlete. Wat hulle gewoonlik goed doen, het hulle deur die loop van die kompetisie buitengewoon goed gedoen. Die atlete was gefokus, hulle was kalm en hulle het dit geniet.”
Volgens Liebenberg was dit, op ’n ietwat koud, ietwat winderige aand in die Eikestad, tog net gedeeltelik die resep van hul sukses.
“Die ouens het op die dag, toe hulle moes, presteer. Dit wys dat NWU-Pukafrigters en die atlete skitterende werk doen.
“Wat die atlete betref verstaan hulle die breë prentjie. Hulle verstaan wat dit behels om lid van ’n span te wees. Elkeen was ’n sterk skakel in ons ketting. Al die afrigters verdien ook baie krediet vir hul wonderlike werk. Hierdie was ons beste Varsity-vertoning nóg en ek hoop, vir die Universiteit, is dit die eerste van vele oorwinnings.”
Liebenberg het ook die leierskap van Bianca Erwee en Ruan Murray uitgesonder as faktore wat ’n deurslaggewende rol in Maandagaand se sege gespeel het.
“Bianca en Ruan, ons spankapteine, het ’n briljante werk gedoen om die atlete te motiveer. Hulle is al so lank deel van die span en het al soveel puik prestasies gelewer en ek is bly hulle kan die soete smaak van hierdie sege proe.
“Soveel van ons atlete het ook hul persoonlike bestes behaal. Ek dink aan Alan Cumming in die hamergooi, Ruan in die diskus, Julia du Plessis in die hoogspring…en Caster (Semenya), sy was skitterend. Daar is soveel name wat ek kan noem.”
Name, soos ‘kampioen’, want vir hom dra die NWU-Puk tot aanstaande jaar.
Deur Bertie Jacobs









































