Agt gespeel, sewe gewen. Elke span in die Varsity Netbalreeks geklop; die enigste wat dit kan sê.
Hoewel die NWU-Puk se netbalspan Maandagaand 44-40 teen Kovsies in die eindstryd van die eerste Varsity netbalreeks vasgeval het, sal daar ver gesoek moet word vir ’n Potchefstromer wat nie met trots oor Dorette Badenhorst en haar troepe praat nie.
Hulle was ambassadeurs wat die kollig op Potch gevestig het, was die reeks se toonaangewers en het terselfdertyd die boustene vir die Universiteit se netbaltoekoms stewig gevestig.
Waar sy vandag sit kan afrigter Dorette Badenhorst, ten spyte van die eindstryd se uitslag, met ’n gevoel van tevredenheid terugkyk na die afgelope paar weke se gebeure.
Die Puk- en SA o.21-breier is egter een wat sku is om krediet vir haarself te neem, tog is haar kaptein, Marli Geel, nie skaam om haar breier die lof toe te sing wat sy verdien nie.
“Dorette is ’n ongelooflike afrigter. Haar menseverhoudinge en vermoë om die regte besluite op die regte tyd te neem maak van haar iemand besonders. Haar kennis van die spel is ongeëwenaard, sy is só geleerd en as mens is sy iemand baie spesiaal.”
Die NWU-Puk se vrouesportbestuurder, Heléne Botha stem saam.
“Dorette is ’n afrigter wat ’n gemiddelde speler kan vat en haar in ’n puik een omskep. Sy het nie uitstaande spelers nodig nie, sy bou hulle. Sy maak hulle. Sy verwesenlik waarvoor NWU-Puksport staan: ‘Ons bou kampioene’. Ek kan onomwonde en met baie trots sê dat elke speler en lid van die bestuurspan ’n kampioen is, want hulle het hul harte vir mekaar, vir die Puk en Potch uitgespeel.
“NWU-Puknetbal wil ook dankie sê vir al die ondersteuning wat ons van die publiek ontvang het. Hul entoesiasme het ons aangedryf en daarvoor is ek uit my hart uit dankbaar. Dit was ’n absolute fees om tydens wedstryde ons ondersteuners te kon ontmoet, met hulle te gesels en saam met hulle die wedstryde mee te leef. Potch, julle is great!”
Deur Bertie Jacobs









































