Daar is dit dan. Net een wedstryd staan tussen die NWU-Puk en ’n geskiedkundige eerste Varsity Netbal-triomf wanneer Kovsies Maandagaand in Potchefstroom aangedurf word.
Dít nadat Tukkies vandeesweek in ’n riller 46-42 halfeindstryd die loef teen die Noordwesters afgesteek het met laasgenoemde wat die enigste onoorwonne span in die reeks bly.
Dorette Badenhorst se span kan reeds hul seisoen as ’n dawerende sukses beskryf. Hulle was deurentyd voortreflik en die toongangers van die eerste Varsity Netbalreeks.
Lanklaas het ’n dié Universiteit ’n span soos hierdie opgelewer en ewe lanklaas het netbalgeesdriftiges rede gehad om só breed te glimlag.
Tog kry jy die idee dat hulle nie tevrede sal wees om slegs ’n verskyning in eindstryd te maak nie. Hulle weet hulle kán hom wen.
Kom ons wees eerlik, Kovsies is dêm goed. Ja, hulle het twee wedstryde verloor (teen die Puk en NMMU), maar die wyse waarop hulle tot die eindstryd deurgedring het (’n 61-49 sege oor NMMU) asook ’n rits wegholseges spreek van ’n span wat genadeloos op hul dag kan wees.
Een van die gevaarlikste pyle in die Puk se koker is egter hul bestendigheid. Dis ’n masjien, dié. Een wat nie breek of hak of misskiet nie.
Hul mede-kaptein, Elsunet du Plessis, stem saam.
“Ek is baie opgewonde, die hele span is opgewonde. Dit is vir ons ’n groot voorreg om in ’n eindstryd te kan speel voor ons eie mense. Ons speel nie net vir ons nie, maar vir hulle ook,” het Du Plessis gesê.
“Die halfeindstryd teen Tukkies was vir ons volmaakte voorbereiding. Dit het vir ons geleer om geduldig te wees en as ’n span saam te speel. Kovsies is ’n uitstekende span, ons weet hulle gaan met ’n knal kom. Hulle moet net nie dink ons gaan ’n tree vir hulle terugstaan nie.”
Hoewel die NWU-Puk vir Kovsies in die eerste ronde geklop het, is Du Plessis dit eens dat die hele span van daardie heerskappy vergeet het.
“Hierdie is ’n nuwe wedstryd. Niks wat vooraf gebeur het maak saak nie. Ons moet dit nou Maandagaand net kwart vir kwart, bal vir bal vat.”
Gepols om ’n voorspelling te maak, het sy gesê: “Ek dink dit gaan baie naby wees. Als gaan afhang van wie die akkuraatste netbal speel.”
Lig en rol, meisies!
Deur Bertie Jacobs









































