As netbalkoors nog nie jou verbeelding aangegryp het nie, sou Maandagaand se rillerstryd tussen die NWU-Puk en UJ jou sprokiesland toe gestuur het.
Met ‘n begeesterde tuisskare wat hulle aangepor het kon die Puk net-net daarin slaag om UJ 60-55 te verslaan en sodoende onoorwonne in die Varsity Netbalreeks te bly.
Dit is tweestryde soos dié wat sportgeesdriftiges se monde laat water.
UJ het nog nie vanjaar op alle silinders gevuur nie, maar hul kleppe het op die SAWD se Kopanelo-baan klopdisselboom geklap.
“Ek het geweet UJ is ’n goeie span wat nog net nie vanjaar kon afkom nie. Ons kon nie daarin slaag om hulle balle gedraai te kry nie en hulle het hul besit uitstekend gehou,” het Dorette Badenhorst, breier, gesê.
Die Puk het ook hul sesde agtereenvolgende bonuspunt ingesamel en sit met 30-punte bo-op die puntetabel met Kovsies (25) tweede.
“Mens kon van die begin af sien dit gaan ’n doele-wedstryd wees wat ‘n hoë telling gaan oplewer. Op hierdie stadium is ’n bonuspunt nie meer vir ons ’n moet nie, maar dit is steeds wonderlik om een te kry.”
Sondagmiddag in Stellenbosch word die bodemskrapers van die reeks, UCT, die stryd aangesê. UCT het nog nie ‘n wedstryd gewen nie en het naas TUT die meeste doele afgestaan (392) en die minste aangeteken (144). Daarteen spog die Puk met ses seges, 376 doele in die sak en 234 vir hul teenstanders.
“Ons uitgangspunt met ons voorbereiding hierdie week is om die meisies se lywe bietjie te spaar, want hulle het vreeslik baie die afgelope ruk gespeel. Ons gaan eerder met hul koppe bietjie werk voor die halfeindstryd wat Maandag plaasvind. Gemeet aan hul uitslae behoort ons vyf punte teen hulle te kry. Dit is ook vir my ’n gulde geleentheid om ’n paar kombinasies te toets en almal ’n speelkans te gee.”
Badenhorst sal egter sonder die doelvernuf van ‘n beseerde Chanté Steyn moet klaarkom, hoewel die Puk se slaankrag met ‘n opstopper in die vorm van ‘n terugkerende Marli Geel aangevul word.
Geel, wat weens ‘n kniegligament-besering op die kantlyn was, is een van die spille waarom dié span draai en haar blote teenwoordigheid verleen ‘n dimensie waarmee min ander kan spog.
“Dit beteken ongelooflik baie om haar terug te hê. Die jonges in die groep kyk op na haar en ons het haar teen UJ gemis,” het Badenhorst gesê.
Gebeur dit teen UCT soos sy voorspel sal daar teen of Tukkies of NMMU Maandagaand vir ‘n plek in die eindstryd sake uitgespook word.
“Ons sal verkies om teen NMMU te speel. Ons het al Tukkies vanjaar gewen en hoewel NMMU ‘n goeie span is, dink ek ons het ‘n bietjie van ‘n sielkundige houvas op hulle.”
Hoe dit ook al sy, hierdie groep hét wat dit verg om enige een van die twee uit te stof.
“Hierdie is ‘n jong groep spelers wat van meet af ‘n ongelooflike hoeveelheid durf en hart gewys het. Hulle gees is voortreflik en hoe meer hulle dit geniet, hoe beter speel hulle. Dit is die lekkerste groep waarmee ek in ‘n lang tyd gewerk het. Maak nie saak wat gebeur van hier af vorentoe nie, ek is trots op hulle.”
Deur Bertie Jacobs









































