Jy sien hulle reeds van Juliemaand op kykNET, maar hoe goed ken jy die vier Varsity Sing finaliste se koorleiers? Lees hieronder om te sien hoekom kykers bevoorreg is om die maestros in aksie te sien!
Junita Lamprecht-van Dijk, wat die koorleier is van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), staan reeds sedert 1994 aan die spits van sake in Port Elizabeth. Sy was ook die hoof van Hoërskool Framesby se musiekdepartement vir amper twee dekades, wat dui op ‘n besonderse vlak van ervaring en kennis.
Sy is ‘n alumnus van NMMU, waar sy ‘n diploma in musiekopvoeding asook ‘n meestersgraad in koorleiding verwerf het. Sedert 1996 het sy en die koor in nege lande opgetree, met hoogtepunte wat vertonings in Oostenryk, Sjina en Italië insluit. Junita is ook lid van die Internasionale Federasie van Koormusiek en NMMU is bevoorreg om so ‘n ervare en passievolle koorleier te hê.
Aan die hoof van die oudste koor in die land staan André van der Merwe, bekend vir sy energieke bewegings en ongelooflike toewyding tot die kore waar hy betrokke is. Aanvanklik begin hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad vir ‘n B.Mus-graad, maar na ‘n handbesering skakel hy oor na B.Drama by Stellenbosch Universiteit, en die res is geskiedenis. André is sedert 2003 die koorleier en onder sy leiding het die koor se internasionale aansien net gegroei.
Die koor het in 2003 in Bremen, Duitsland vir die eerste keer by die Wêreld Koorspele deelgeneem en het sedertien in lande soos Oostenryk, Sjina, die VSA, Letland en Rusland deelgeneem. Vroeër die jaar het André en die Koor weggestap met die titel van wêreldkampioene, toe hulle in Sochi drie verskillende kategorieë gewen het, naamlik Musica Sacra A Cappella, Musica Contemporanea en Geestelik. Hy dien ook as koorleier van Stellenberg se Meisieskoor en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor.
Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Renette Bouwer het haar B.Mus verwerf aan die Universiteit van Pretoria, waarna sy haar honneurs by die Universiteit van Suid-Afrika en haar meestersgraad in koorleiding by die Universiteit van Stellenbosch verwerf het.
UJ, wat toe nog bekend was as die Randse Afrikaanse Universiteit, het in 2001 die Elfde Internasionale Koorkompetisie vir Advent en Kersfees Musiek in Prague gewen. In 2006 wen die UJ koor `n goue toekenning en in 2008 was die koor die enigste Suid-Afrikaanse verteenwoordiger by die Agste Wêreldsimposium vir Koormusiek in Kopenhagen.
In 2012 was Bouwer vereer deur die Afrikaanse Taal- en Kultuur Vereniging (ATKV) vir haar bydrae tot koorsang in Suid-Afrika. Sy is ‘n gereelde beoordelaar by kompetisies in Suid-Afrika en in die buiteland. UJ en Bouwer het sinoniem geword met die unieke vermoë om beide Westerse en Afrika-musiek stylvol op te voer. Bouwer gee groot erkenning hiervoor aan UJ se Afrika-musiek spesialis, Sidumo Nyamezele, wat veral met die dans UJ laat uitstaan op ‘n verhoog.
Michael Barret en die Tuks Camerata van die Universiteit van Pretoria (UP) stap al lank saam ‘n pad en daarom is dit geen verrassing om te sien hoekom die koor gereken word as ‘n sterk aanspraakmaker vir die Varsity Sing titel. Hy was lid van die Drakensberg Seunskoor tussen 1992 en 1997 en het sy B.Mus Cum Laude verwerf by UP in 2005. Daarna voltooi hy sy Meestersgraad in Uitvoerende Kuns, met ‘n fokus op koorleiding. Verder het hy ook ‘n Nagraadse Onderwyssertifikiaat en is tans besig met sy Doktersgraad in koor-opvoering by sy alma mater.
Tydens sy voorgraadse studiejare was hy lid van die koor en is in 2004 aangestel as assistant-koorleier. Hy tree gereeld op as ‘n beoordelaar by koor kompetisies, beide plaaslik en internasionaal. Hy word in 2013 as ‘n voltydse dosent aangestel by UP en word koorleier van die Tuks Camerata. Barret het verskeie toekennings verower vir sy koorleiding, met pryse in Rusland, Wallis en Poland wat onlangs op sy mantel staanplek gekry het.
Dit is duidelik dat al die finaliste in bekwame hande is en dat die koorleiers dus geen steen onaangeroer sal laat met die finaal op 13 Oktober!
By Dorfling Terblanche









































