Uiteindelik! Dit het sewe jaar geneem. Sewe jaar se bloedsweet en sewe jaar se hoop wat met reëlmate aan skerwe gelaat was.
Dit het sewe jaar geneem vir die NWU-Puk om uit-en-uit as ‘n Varsity Sport-kampioen gekroon te word.
Nou, vandag, behoort dié eer aan Dorette Badenhorst en haar netbalspan wat Maandagaand in Stellenbosch die hele Coetzenburg Binnehuissentrum verslae gelaat het deur Maties 50-37 in die eindstryd van die Varsity Netbalreeks te klop.
‘n Geskiedkundige oorwinning. ‘n Stroopsoetsege. Viva, NWU-Pukke. “Dit is ‘n droom wat waar word. Ons het soveel harde werk ingesit, so dit voel ongelooflik,” sê afrigter Dorette Badenhorst.
En, lank lewe die eerste kwart van die kragmeting en die uitstekende gebruik van die Power Play wat nie net Maties vir die res van die wedstryd op die agtervoet gehad het nie, maar ook waarsegsters hul kristalballe die muur laat ontmoet het. Hoe dan nou, Maties is mos die oorweldigende gunstelinge, of hoe? NWU-Pukke het 16-4 voorgeloop en nooit terug gekyk nie.
“Ek het my instink gevolg. Niemand gebruik ooit die Power Play in die eerste kwart nie,” lag Badenhorst, “Maar, ek het besluit om dit te doen en dit het vir ons gewerk. Op die einde het dit ‘n groot invloed op die wedstryd gehad.”
‘n Warrelwind punte-oes het die tuisspan ná die eerste 15-minute gekwes gelaat en, ‘n uitstekende terugvegpoging in die derde asook begin van die vierdekwart en spyt, was Maties se rug selde nie teen die muur nie.
“Daar was ‘n paar haakplekke in die derde en vierde kwart en hoewel ons hulle dalk met ‘n punt of twee verloor het, het ons deurgaan kopgehou. Ons was wel met tye bietjie verbouereerd met die hoeveelheid strawwe wat teen ons toegeken is. Ons het Maties toegelaat om terug te kom, maar dit is een van die probleme wanneer mens so ver voor is,” verduidelik Badenhorst. Nietemin, gejuig was daar gejuig.
“Ek het verlede week na die wen teen Kovsies gedink dit is een van die hoogtepunte van my professionele loopbaan. Hierdie is nog lekkerder.”
Om twee wegwedstryde, eers teen onoorwonne Kovsies in die halfeindstryd en tóé Maties in die Eikestad, te wen spreek van karakter. Blêrrie baie karakter.
Prof Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus, het dit met die span se aankoms in Potch bevestig.
“Dit is fantasties en presies wat die Universiteit nodig het. Julle was wonderlik en ons kon nie vir beter gevra het nie. Julle help om ons wenkultuur te laat voortleef. Baie, baie dankie en baie geluk. Die hele kampus, al 21 000 studente, is saam met julle bly.”
Met die rugbyspan van die NWU-Puk wat in die eindstryd van hul toernooi teen Shimlas in Bloemfontein verloor het, die atletiekspan wat die louere met Tukkies gedeel het, die Universiteit wat met groot sukses die eerste Varsity Kriekettoernooi aangebied het en die netbalspan se historiese sege was dit gewis ‘n sprankeljaar wat die NWU-Puk se deelname by Varsity Sport betref.
Deur Bertie Jacobs









































