Klipsteenhard. Dít is hoe die NWU-Puk se netbalspan Sondagmiddag gaan wees wanneer hulle Maties op die Kopanelo-baan in hul eerste Varsity Netbal-kragmeting op die Kopanelo-baan gaan aandurf.
Klipsteenhard en onverskrokke, hiervan kan jy seker wees.
Dorette Badenhorst se span hartverskeurend naby gekom om die eerste Varsity netbal-trofee in hul vertoonkas te hê. Dêm het gedog hy is naby aan ’n vloekwoord? Dêm weet niks.
Nou, oor minder as ’n handvol dae, begin hul aanslag weer.
“Ons is verseker reg. Ons het hard gewerk en ons voorbereiding was baie goed,” het Badenhorst, hoofafrigter, gesê.
Sy is dit wel eens dat haar span daarop sal moet uitgaan om vlugtige Maties se vlerke te knip.
“Ons het een keer teen Maties by die USSA’s verloor en ons het hulle ook een keer gewen. Ons dat hul vernaamste gevaarpunte hul spoed, verdediging en ervaring binne die sirkels is. Ons sal hulle spoed móét breek as ons dit wil deurtrek.”
Hoewel die Puk die ervare Elsunet du Plessis vaarwel moes heet sal ondersteuners verlig wees om die blondekop Nadia Uys weer op die baan te sien.
“Elsunet het ’n groot rol as speler en kaptein gespeel, en ons gaan haar mis. Om Nadia terug te hê na twee jaar hou egter groot voordeel vir ons in en gee vir ons baie selfvertroue. Sy neem ook die kapteinskap oor.”
Vir dié groep is dit allermins ’n geval van een naam maak ’n span.
“Dit is ’n jong span en ons spog dalk nie met al die name wat ander universiteite op hul spanlyste het nie, maar hulle is ’n span wat vir mekaar speel. Hulle weet hoe om van die groot universiteite te klop, hulle moet dit nou net op die regte tye doen. Hulle glo in hulself en hulle is ’n groep spelers waarop Pukke kan trots wees.
“Ek is trots op hulle.”
*Volg die span se elke dag op Twitter by @Puknetbal om te sien hoe lyk dit agter dié span se skerms.
Deur Bertie Jacobs









































